In hierdie drama word die leser/gehoor gekonfronteer met die gevolge van keuses waarmee bykans alle Suid-Afrikaners kan identifiseer: kwessies soos emigrasie, die behoud van bande met die geboorteland, nagevolge van die Angolese bosoorlog, moorde op bejaardes en sosiale onsekerhede as gevolg van kriminele geweld. Hiermee gee Opperman dramaties gestalte aan die gedagte dat die persoonlike dikwels 'n politieke strekking het. Ook ander verwysingsraamwerke tree na vore, waaronder die invloed van die geskiedenis en die soeke na identiteit.